Screen Size

VOLG ONS IDEES OM DIE LEKKERSTE VAKANSIE OF WEGBREEK TE BEPLAN!

ATKV OORDE

In sommige van die mooiste dele van ons land, omring deur kultuurskatte, historiese erfgoed en ander opwindende toeriste-aanloklikhede lê sewe verruklike oorde waar gaste met ongekende gasvryheid verwelkom word. Elke oord is ’n veilige, ontspanne lushof waar jy jou kan tuismaak vir ’n onvergeetlike gesinsvakansie, ’n inspirerende konferensie of spanbousessie, jou droomtroue of ’n kulturele ontdekkingsreis! Al die ATKV-oorde spog met gerieflike selfsorgverblyf, woonwaparke en luukse eenhede waarvan die graderings tussen twee- en vierster wissel. Daar is heerlike eetplekke, sonnige speelplekke, plekke vir salige ontspanning en aksie vir Afrika! Die oorde bied hope pret, soos minigholf, warm- en kouewaterswembaddens, waterwurms, muurbal- en vlugbalbane, springmatte, staproetes, perdry en baie meer vir oud en jonk. Die voordeel van die ATKV-oorde is dat jy per eenheid bespreek en nie per persoon nie. Dit is dus ware bekostigbare gesinsvakansies. Met pretnaweke en vakansies word goeie gesinsvermaak van hoë gehalte gebied wat beloof om almal se plesierspier te kielie. Verder is die oorde regoor Suid-Afrika geleë sodat die ATKV al sy lede en vakansieliefhebbers kan huisves.

ATKV-BUFFELSPOORT OORD (NOORD-WES)

Minder as ’n uur van beide Pretoria en Johannesburg, lê ATKV-Buffelspoort-vakansieoord. Met ’n verskeidenheid selfsorgakkommodasie, ontspanningsgeriewe en aktiwiteite, ’n restaurant, kitskosfasiliteite en goed-toegeruste winkel is die oord die ideale basis vanwaar jy die magdom toeriste-aantreklikhede in die omgewing kan verken. Ons kampeergeriewe is veral gewild. Benewens ons vierbed-tenthuise het ons ’n magdom kampeerstaanplekke onder skaduryke bome of gepavleide staanplekke met skadunette, kragpunte en braai-area. Perfek vir aksie en avontuur, of net luilekker rus en vrede...die volmaakte gesinsvakansie! 


ATKV-KLEIN KARIBA OORD (LIMPOPO)

Sowat negentig minute van Johannesburg, net buite Bela-Bela, sprankel ATKV-Klein-Kariba in een van die Waterberge se mooiste klowe. Hierdie pragoord bied ’n wye verskeidenheid akkommodasie met egte Bosveld-gasvryheid. ’n Magdom aktiwiteite, ontspanningsgeriewe en fasiliteite soos ’n restaurant, kitskos-afdeling en ’n goed-toegeruste winkel verseker dat gaste nie een ongerieflike oomblik beleef nie. Boonop lê ons op die Bosveld-toeristeroete wat ’n ideale basis is vir verskillende dagtoere. Met moderne fasiliteite vir groepe van tot 700 bied ATKV-Klein-Kariba se rustigheid en vreedsame stilte die perfekte atmosfeer.


ATKV-EILAND SPA OORD (LIMPOPO) TZANEEN

Ontspan en geniet ware gasvryheid by ons toevlugsoord in die Limpopo. Op die suidelike oewer van die Letabarivier slegs 68 km oos van Tzaneen in die Limpopoprovinsie, lê ATKV-Eiland Spa in die hartjie van die Hans Merensky-natuurreservaat. Eiland Spa spog heeljaar met warm, sonnige weer en saam met die uiteenlopende natuurskoon is hierdie oord een van die gewildstes in Suid-Afrika. Met ’n verskeidenheid selfsorg-akkommodasie, ontspanningsgeriewe en -aktiwiteite, restaurant, asook ’n helende hidro-spa is ATKV-Eiland Spa die ideale plek vir die hele gesin om te kom ontspan.Die rustige kalmte en vreedsame stilte van die omgewing skep die ideale atmosfeer.


ATKV-NATALIA SEEOORD (KZN) DURBAN

Net 40 km suid van Durban wag ATKV-Natalia Strandoord dat jy spore kom trap in sy silwerwit seesand en lyf kom natmaak in sy blinkblou water … ’n tropiese paradys waar die weer heeljaar soel en salig is. Akkommodasie by ATKV-Natalia bestaan uit ’n keuse van ruim, gesellige selfsorg-woonstelle in verskeie groottes en ’n boomryke woonwapark met spogfasiliteite. Benewens al die ontspanningsfasiliteite op die oord is Natalia net ’n klipgooi ver van allerhande opwindende en interessante toeriste-aantreklikhede in die omgewing. Met moderne fasiliteite vir 400 mense kan ATKV-Natalia konferensies en selfs skoolgroepe huisves. 


ATKV-DRAKENSVILLE OORD (KZN) DRAKENSBERGE

Verruil die stadstoneel vir skouspelagtige natuurtonele by die Drakensberge! Met net ’n rapsie meer as drie uur se ry van Johannesburg en Bloemfontein lê ATKV-Drakensville-vakansieoord naby die voetheuwels van die Drakensberg-amfiteater, ’n wêrelderfenisgebied. ATKV-Drakensville, ’n mekka van asemrowende uitsigte, word omring deur historiese landmerke en bied toegang tot talle toeristeaantreklikhede in die omgewing. Die oord het ’n verskeidenheid akkommodasie, avontuur-aktiwiteite, ontspanningsgeriewe, ’n restaurant en geskenkwinkel. Die oord is perfek vir jou sprokietroue, ‘n suksesvolle konferensie of ‘n spiekeries spanbouprogram!


ATKV-GOUDINI SPA OORD (WES-KAAP)

Geniet borrelende pret in die Wes-Kaap! Skaars ’n uur van Kaapstad in die hartjie van die Bolandse berge lê ATKV-Goudini Spa met sy helende mineraalbaddens en te veel pretdinge om in een vakansie in te pas. ATKV-Goudini Spa se verskeidenheid selfsorgakkommodasie, vermaak en ontspanningsgeriewe sal selfs die kieskeurigste vakansieganger gelukkig maak. Ons oord lê op die beroemde Roete 62, die grootste en uiteenlopendste wynroete ter wêreld. ATKV-Goudini Spa beskik oor uitstaande konferensiefasiliteite wat tot 800 konferensiegangers kan huisves. Ook die ideale keuse vir ’n perfekte huweliksonthaal.


ATKV-HARTENBOS OORD (WES-KAAP) HARTENBOS

ATKV-Hartenbos lê op die wêreldbekende Tuinroete tussen Kaapstad en Port Elizabeth, ongeveer 8 km van Mosselbaai en 40 km van George-lughawe. Sakpas-gesinsvakansies by die see is moontlik met ATKV-Hartenbos se verskillende akkommodasieopsies waar jy per eenheid en nie per persoon betaal nie. Voeg hierby ’n magdom aktiwiteite en ontspanningsgeriewe, ’n restaurant, kitskos-afdeling en geriefswinkel en jy het alles wat jou hart begeer. Ook die ideale basis vanwaar mens jou vakansie verder kan inkleur met besoeke aan talle toeriste-aantreklikhede in die omgewing. Die ATKV-Hartenbos-museum bied ’n terugblik op die Groot Trek.


KOSWERF RESTAURANT - ATKV- OORDE IN SA

Die ATKV-oorde spog met ses unieke restaurante met die naam van Koswerf. Die handels-merkuitbreiding van die ATKV is nou oop by Eiland Spa, Buffelspoort, Klein-Kariba, Natalia, Drakensville en Goudini Spa. Vakansiegangers kan nou kies uit verskeie aantreklike, moderne en bekende geregte wat hulle nog meer bederf sal laat voel. Die restaurante skep ’n rustige gesins- en vakansieatmosfeer en is net die plek om saam met familie en vriende te kuier. Die Koswerf-spyskaarte bied waarde vir geld en daar is iets vir elke gesinslid ongeag by watter oord jy uitspan. Daar is ’n wye verskeidenheid geregte beskikbaar is, almal kleurryk en stylvol en reg vir wegval. 


Copyright © VakansiePlekke 2019 - All rights reserved.  |  Privacy Policy